Abstract:
In St Helena Primary School v MEC, Department of Education, Free State Province 2007 4 SA 16 (O) het Vusi R bevind dat die betrokke skool ’n verpligting gehad het om die skade wat deur ’n brand aan die skoolgebou veroorsaak is, te herstel. Die regter het sy bevinding gebaseer op die feit dat die skool die eiendom teen brand verseker het. In ’n artikel in De Rebus van Julie 2008 voer Sonnekus en Schlemmer aan dat skoolbeheerliggame ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet slegs verantwoordelik is vir die gebruik en bestuur van die skooleiendom en dat die Staat verplig is om skoolgeboue te onderhou. In hierdie artikel ondersoek ons die voorsiening en finansiering van onderwys sowel as die funksies van skoolbeheerliggame. In die lig daarvan bespreek ons Sonnekus en Schlemmer se argumente krities en kom ons tot die gevolgtrekking dat ons nie kan saamstem met hulle bewering dat die skoolbeheerliggaam geen versekerbare belang in die skooleiendom het nie. Ons stem ook nie saam dat onderhoud of herstel van skooleiendom die uitsluitlike verantwoordelikheid en grondwetlike
verpligting van die Staat is nie.