Abstract:
Voor my lê drie begrafnisbriewe. Vir die soveelste keer het ek dit al gelees en steeds is alles onwerklik. Het dit werklik gebeur? Hoe is dit moontlik dat drie belangrike Ou Testamentici binne 'n paar maande kan sterf? Wat gaan met die vak gebeur en hoe gaan die studente dit verwerk? Wat is die langtermynvooruitsigte vir die studie van die Ou Testament in Suid-Afrika? Op 'n wrede manier het ons geleer dat die sosio-politieke transformasie van universiteite nie die ergste is nie. Die dood is veel erger. Die verlaging van standaarde, kampusonrus, die afrikanisering van die wetenskap, skrale beroepsmoontlikhede vir jong akademici en die donker beroepstoekoms van gevestigde akademici word deur die skielike sterwe van drie kollegas verdwerg. Dit maak 'n mens magteloos en 'n gevoel van disorientasie
oorweldig jou. Prediker is steeds reg: tussen gebore word en doodgaan word ons dag vir dag aan gebeure oorgelewer waaraan ons weinig kan
doen. Ons lewe magteloos, want ons het nie oor die lewe, die dood en talle ander gebeurtenisse beheer nie. Hieronder volg 'n kort huldeblyk oor elkeen: eers kom Ferdinand Deist (9 Augustus 1944 tot 12 Julie 1997), dan Riempies Prinsloo (19
Augustus 1944 tot 5 Oktober 1997) en ten slotte Hannes Olivier (31 Januarie 1945 tot 25 Maart 1998) aan die beurt. Hierna volg iets oor
internetonderrig en 'n nuwe akademiese tydskrif.