Abstract:
Die Romeinse reg het persone en sake wat deur die vyand gevang of as oorlogsbuit
geneem is, in hul oorspronklike regsposisie herstel wanneer die persone en/of sake weer
in Romeinse hande geval het. Ten aansien van roerende sake was toepassing van die reg
van terugkeer egter beperk tot sekere sake: oorlogs- en vragskepe, slawe, perde, muile en
esels. Kaser noem as kriterium dat die sake vir oorlogvoering belangrik moes gewees het.
In die artikel word die hipotese gestel dat die sake se waarde asook die feit dat hul
uitgeken kon word, deurslaggewend was.
De Groot het in sy De jure belli ac pacis die stelling gemaak dat postliminium ten aansien
van roerende sake verdwyn het. Van Bynkershoek volg hom op hierdie punt, maar
albei skrywers het nuwe reëls met betrekking tot oorlogsbuit oorgeneem om skade vir die
Hollandse handelsvloot te beperk.
Die wetgewing van die State-Generaal op hierdie gebied asook die internasionale verdrae
toon egter aan dat die spore van postliminium moeilik uitgewis kon word.