Abstract:
Die verweer van contra-spolie het gewoonlik min akademiese aandag geniet en was selfs
as ʼn onkontroversiële deel van die privaatreg geag. Al hoe meer privaat- en staatseienaars
van grond het egter onlangs begin om hierdie verweer, wat ʼn persoon toelaat om buitegeregtelike self-help te gebruik om sy besit van ʼn saak te beskerm, in te span om
onregmatige besetters van hulle grond te verwyder. Hulle redeneer hierdie besetters is nog
nie onregmatige okkupeerders onder die Wet op Voorkoming van Onwettige Uitsetting en
Onregmatige Besetting van Grond 19 van 1998 nie, en daarom benodig hulle nie ʼn hofbevel
om hulle af te sit nie. Die besetters, daarenteen, beweer hulle mag net ingevolge ʼn hofbevel
uit hulle wonings op die grond gesit word. Hierdie dispute opper verskeie vrae – die verweer
se vereistes, die rol van die besitkonsep, die verhouding tussen besit in die privaatreg en
“onregmatige okkupeerder”-vereistes onder die Wet, en of die “woning”-konsep in artikel
26(3) van die Grondwet miskien die drempelvereiste behoort te wees vir grondbetreders
om beskerming onder die Wet te geniet. Ons ontleed hierdie vrae, in ʼn reeks van twee
artikels, vanuit ʼn sistemiese perspektief – Van der Walt se grondwetlike visie van eiendom.
Ons evaluasie toon dat besit dieselfde betekenis as onregmatige okkupeerder het. Dit wys
ook dat sekere howe Van Leeuwen se wye benadering tot die instanter benadering volg, en dat hulle ook irrelevante oorwegings in ag neem, veral wanneer die eienaar hom op contraspolie beroep. ʼn Sterker klem op die besitkonsep slaag daarin om hierdie inkonsekwenthede
die hoof te bied. Dit wil nietemin voorkom of besetters eers beskerming onder die Wet sal
geniet selfs nadat hulle reeds wonings op die grond gevestig het. Dit is daarom beter om
die woningkonsep in artikel 26(3) as drempelvereiste te gebruik, aangesien hierdie konsep
wyer is as die “onregmatige okkupeerder”-vereiste. Weens die geweldige lyding waarmee
vele uitsettings gedurende apartheid gepaard gegaan het, is dit beter indien die uitsetting
van alle betreders, wat reeds wonings op grond het, aan geregtelike oorsig onderwerp word.