Abstract:
Kinderverkragting is ’n emosiebelaaide misdryf wat die howe toenemend tydens ’n
komplekse vonnisfase moet hanteer. Die hof moet in elke geval bepaal of dwingende en
wesenlike omstandighede aanwesig is (artikel 51(3)(a) van die Strafregwysigingswet 105
van 1997) om sodoende ’n afwyking van die voorgeskrewe vonnis van lewenslange
gevangenisstraf te regverdig. Alhoewel regterlike diskresie beskryf word as ’n kritiese
aspek in die Suid-Afrikaanse reg, is ook bevind dat regterlike diskresie soms aanleiding
gee tot onaanvaarbare en onregverdigbare verskille ten opsigte van sowel die vonnisproses
as die opgelegde vonnis. Faktore wat hiertoe aanleiding gee, is onder andere die
uiteenlopende benaderings van die regbank tydens die vonnisproses ten aansien van die
erns van die misdaad en die bevinding en uitleg van tersaaklike versagtende en verswarende
omstandighede. Hierdie artikel ontleed en konsolideer riglyne in die regspraak, minimumvonniswetgewing
en geselekteerde buitelandse reg. Die doel is om toeganklike riglyne
ten aansien van die vonnisproses te verskaf om sodoende by te dra tot ’n groter
eenvormigheid in regterlike benadering in die bepaling van die erns van kinderverkragting
asook die opweging van faktore vir die bevinding van dwingende en wesenlike omstandighede.