Abstract:
Ofskoon mens met 'n groot mate van stelligheid kan konstateer dat die beginsels rakende die vasstelling van nalatigheid van 'n dader wat onregmatig nadeel aan 'n ander veroorsaak het in die Suid-Afrikaanse deliktereg uitdrukking vind in vaste reëls wat oor die jare heen uitgekristalliseer het, blyk dit male sonder tal dat die praktiese toepassing van hierdie reëls hoofbrekens kan besorg. Veral waar die betrokke reël een van die sogenaamde "soepele" ("open ended") deliksbeginsels bevat (vgl Neethling, Potgieter en Visser Deliktereg (2006) 21) soos die diligens paterfamilias-toets vir nalatigheid, blyk hierdie tendens besonder duidelik.